Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Deur: Werner Lottering
“Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag
waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek
en gesê: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met
die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so
dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” Want so dikwels as wat julle hierdie
brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom.”
St. Paulus aan die Kerk in Korinte 11:23-26
“Die priesterskap is die liefde vir die Hart van Jesus. Wanneer jy ‘n priester sien, dink aan ons Here
Jesus Christus.”
St. Johannes Vianney
“Die priester is nie ‘n priester vir homself nie; hy is ‘n priester vir jou.”
“Die wereld kort priesters wat sigbaar en vreugdevol toegewy is aan die Here.”
Pous Benediktus XVI
Die Oorsprong van die Priesterskap
Jesus, ons Hoëpriester, het Homself eenmalig geo5er vir die sondes van hierdie wêreld. ’n Wêreld wat, hoewel dit deur die Woord van die Here en al sy leërskare deur die Asem van Sy mond geskape is (Ps 33:6), deur sonde en verval geskend is. Ons leef in ’n kosmos wat terselfdertyd aan die Here en Sy goddelike wil en heerlikheid toegewy is, maar ook ’n kosmos wat smag om verlos te word van sy slawerny aan verval (Rom 8:21) as gevolg van sonde. Tog wek dit hoop in ons op (Rom 8:18, 20, 23-25). ’n Hoop op die volkome verlossing van ons hele wese – liggaam en siel – en die hele wêreld!
Deur ons Here se selfopo5erende dood ter wille van ons, waar Hy die boosheid en sonde van die wêreld op Hom geneem het (1 Pet 2:24), en Sy liggaamlike oorwinning oor die dood wat blykbaar ’n houvas op Hom gehad het deur Sy opstanding, word ons geloof gegrond op hierdie dikwels vanselfsprekende beskoude waarhede.
Maar daar is meer aan die verhaal. Jesus het nie net gesterf en opgestaan uit die dood nie. Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God die Vader totdat Sy vyande aan Hom as voetbank onderwerp is (1 Kor 15:25 vgl. Ps 110). Hy het Sy naaste dissipels belowe om Sy Gees neer te stuur om hulle te bemagtig om Sy boodskappers, ambassadeurs en Sy hande en voete in hierdie wêreld te wees. Al die gelowiges deel in hierdie Apostoliese bediening, omdat ons deur ons doop in dieselfde Gees deel (Hand 1:8; 1 Kor 12:4; Ef 4:4), wat op hulle uitgestort is op Pinksterdag. Hierdie liggaam van gelowiges, wat met die Gees vervul is, is die Kerk wat eerstens gevestig en gebou is op die persoon van St. Petrus en sy belydenis van Jesus as die Messias en dan op die res van die Apostels (Matt 16:18-19, 18:18; en Ef 2:20). Jesus het belowe om ’n Kerk te bou wat Sy Koninkryk verkondig en beliggaam—’n Koninkryk wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie Kerk is gebou op St. Petrus en die res van die Apostels, wat die gesag ontvang het om die Kerk te leer en te lei (“bind en ontbind” – Matt 16:19 en 18:18) en selfs om sondes te vergewe in die persoon van Christus (Joh 20:22-23). Ons sien hoe hulle van hierdie diensgerigte gesag gebruik maak by die Konsilie van Jerusalem in Handelinge 15:1-35, waar die Kerk, onder leiding van St. Petrus (verse 7 en 14), die ander Apostels en die ouderlinge (Grieks: presbuteroi, vers 6), wat deur die Apostels aangestel is saam met die res van die Kerk in gemeenskap met hulle, besluit het dat heidene nie eers “Jode” hoef te word om ware Christene te wees nie. Hierdie gesag om op hierdie wyse te dien, wat Christus aan die Apostels gegee het, is oorgedra aan die “ouderlinge” wat hulle aangestel het (vgl. Hand 14:23; 1 Tim 4:14; 2 Tim 1:6, 2:2; Tit 1:5; Matt 28:19-20). Teen die einde van die 1ste eeu en in die 2de eeu, het hierdie gesagsorde begin vorm aanneem as: Biskop (Oorsiener), Ouderling (‘presbyter’), en Diaken. Ons sien hierdie struktuur weerspieël in die geskrifte van die dissipels van die Apostels self, soos St. Klementyn (wat St. Paulus en/of St. Petrus geken het), die vierde Pous of Biskop van Rome, en St. Ignatius, Biskop van Antiogië (’n dissipel van St. Johannes, die seun van Sebedeus).
Die rede waarom ek die bogenoemde uitwys, in opsomming, is omdat die priesterskap (waarop daar hieronder uitgebrei sal word) nie in isolasie verstaan moet word van die struktuur wat Jesus en Sy Apostels vir die Kerk gevestig het tot aan die einde van tyd nie. Die priesterskap spruit uit Jesus self, en hoewel Sy priesterskap onder alle gelowiges gedeel word (elke Christen is deel van die “koninklike priesterdom” van Christus vgl. 1 Pet 2:9), is daar ’n spesifieke verstaan van die
gebruik van die term ‘priester’ in verband met kerklike bestuur en praktyk.
Die woord ‘priester’, soos ons dit in Afrikaans het (‘priest’ in Engels), kom van die Griekse presbyteros, die Latynse presbyter, die Ou Franse prestre, en dan uiteindelik kry ons die Afrikaanse ‘priester’. Maar meer as net die etimologie van die woord, het die term priester begin verwys na die leiers van die Kerk omdat die Apostels en hul opvolgers die Eucharistie (die Nagmaal) nie net as ’n gedenkmaal, simbool of iets waarin Jesus slegs geestelik teenwoordig is, verstaan het nie, maar as ’n o5er—die o5er van Jesus Christus in Sy Liggaam, Bloed, Siel en Godheid wat teenwoordig gestel word in die vergadering van gelowiges (die Mis). Daar sal later meer oor die Heilige Eucharistie gesê word, maar hou net in gedagte dat volgens die Skrif, soos in Johannes 6:51-57, dit duidelik is—en dit is die geloof van die Kerk al vir byna twee millennia—dat Jesus nie net metafories of geestelik praat nie, maar heel letterlik bedoel wat Hy daar sê: in die Eucharistie is ons Here Jesus wesenlik teenwoordig! Hieronder volg enkele redes waarom die term ‘priester’ deur die Kerk aangeneem is. Maar later sal meer pragtige feite aangebied word oor die Eucharistie en sy verband met die Ou-Testamentiese priesterskap.
• Die Eucharistiese Offer – Omdat die Kerk die Eucharistie as ’n ware offer beklemtoon het (volgens Christus se bevel: “Doen dit om My in herinnering te bring” – Luk 22:19), het diegene wat dit bedien het, ’n meer offerende rol aangeneem.
• Verbintenis met die Ou-Testamentiese Priesterskap – Hoewel dit verskil van die Joodse priesterskap, is Christelike leiers in die vorm van priesters, gesien as die vervulling van Maleagi 1:11, waar God sê: “Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en ‘n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies”, sê die HERE, Heerser oor alle magte” Sien Jesaja 66:20-21 wat verwys na ‘n priesterskap met offergawes (die o5er van Christus) in die Nuwe Verbond.
• Hiërargiese Ontwikkeling – Teen die tyd van St. Siprianus (3de eeu n.C.) was ’n duidelike drievoudige bediening van biskop, priester en diaken gevestig, wat die priester as ’n aparte amp onder die biskop afgebaken het.
• Latynisering van die Kerktaal – Namate Latyn, Grieks in die Westerse Kerk vervang het, het ‘presbyter’ verander na ‘prester’ en uiteindelik ‘priester’ in Afrikaans en ‘priest’ in Engels.
Teen die 2de-3de eeue het die Christelike verstaan van die Eucharistie as ’n ware offer meer eksplisiet geword. Die rol van die ‘presbyter’ in die aanbieding van hierdie offer is toenemend geassosieer met die Ou-Testamentiese priesterskap soos genoem.
• St. Ignatius van Antiogië (c. 107 n.C.) het na die biskop verwys as iemand wat “in die plek van God” staan en na die presbyters as ’n geordende liggaam onder hom (Brief aan die Magnesiërs). Hy het die Apostel Johannes geken soos voorheen genoem.
• St. Irenaeus van Lyon (c. 180 n.C.) het oor die Eucharistiese o5er gepraat en Christelike bedienaars verbind met die Ou-Testamentiese priesterskap (Teen die Dwalings 4:17:5).
• Teen die 3de-4de eeu het die Latynssprekende Kerk al hoe meer die term sacerdos (priester) vir beide biskoppe en ouderlinge (presbyters) begin gebruik.
• Die Oosterse Apostoliese Kerke (die Ortodokse, Oosterse Ortodokse en die Kerk van die Ooste) gebruik ook die term ‘priester’ en het dieselfde begrip van die Eucharistie. Dit beteken dat elke Kerk wat sy oorsprong en kontinuïteit in die Apostels en hul opvolgers het, hierdie essensiële verstaan van die Eucharistie vir 1500 jaar tot vandag toe gedeel
het en nogsteeds deel.
Alhoewel die bogenoemde verduideliking bietjie meer tegnies is, is die doel daarvan om die oorsprong van die term ‘priester’ in verband met die leiers van die Kerk aan te toon (waar die biskop self ’n priester is, maar hiërargies bo die plaaslike Kerk priester staan in terme van jurisdiksie en leiding deur diensbaarheid). Baie van die bogenoemde sal verder in detail hieronder
ondersoek word.
Deel twee is hier:
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
