Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Plegtige Toewyding tot die Heilige Hart
Individuele Bepeinsing van 19 Junie 2020 uit 'n versameling “Musings” “...in 'n vreemde tyd...”
Deur: Rt. Rev. Biskop Graham Rose.
(Vertaal in Afrikaans met toestemming van die outeur)
In 1963 het die Amerikaanse Katolieke skrywer, Flannery O'Connor, aan 'n vriend van haar geskryf en gesê: “Ek het nog altyd gedink dit is jammer dat die “toewyding tot die Heilige Hart” nie op een of ander manier verduidelik kon word sonder om net sentimentele vroomheid te wees nie.” Hierdie woorde resoneer baie met die moderne verstand en dit herinner my aan my eie geloofsverhaal – maar meer daaroor later. O`Connor se woorde het my uitgedaag en my laat dink...
Dit lyk vir my of ons die Heilige Hart op óf op 'n ‘klein’ óf op 'n ‘groot’ manier kan benader. Om dit eenvoudig te stel - die ‘klein manier’ sien Jesus as 'n speler ‘binne ons wêreld’ - terwyl die die ‘groot manier’ sien die wêreld as ‘binne’ ons Here Jesus. 'n Klein benadering fokus makliker op Jesus as die Goeie Herder uit Galilea, die Here wat sowat tweeduisend jaar gelede gesterf en uit die dood opgestaan het. Die groot benadering plaas egter ook klem op Jesus as die Tweede Persoon in die Heilige Drie-Eenheid - Hy wat van alle ewigheid af, alles wat bestaan, skep en onderhou. Jesus word in die ‘groot’ benadering gesien as die Here van die kosmos (heelal).
Kom ek illustreer die vergelyking van hierdie twee benaderings met ‘n humoristiese storie. Ek dink aan die film, ‘The Commitments’ wat in 'n armer deel van Dublin, in Ierland, afspeel. Die toneel wat ek onthou, speel af binne 'n tipiese Ierse huis uit daardie tyd. Teen die muur hang drie prente, een bo die ander, in ‘n opwaartse rangorde van belangrikheid. Ek kan nie die onderste foto onthou nie (was dit 'n politikus?), maar bo hom was die Heilige Hart, en dan bo Hom, was Elvis Presley! Praat van prioriteite - dit weerspieël waarlik 'n ‘klein begrip’ van die Heilige Hart!
Aan die ander kant is die ‘groot’ Jesus soos ons Hom vind in St Paulus se briewe aan die Efesiërs en Kolossense. In Efesiërs 1:9-10 lees ons: “Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, om die volheid van die tye te bestuur en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring…(2020 Afrikaanse Vertaling)”. Ooreenstemmend in Kolossense 1:17, sê Paulus van Jesus Christus: “Hy het voor alles bestaan en in Hom hou alles stand (2020 Afrikaanse Vertaling)”. Veral hierdie laaste woorde het vir my van die grootste waarde.
Ek het verwys na my geloofsverhaal ... ! Toe ek die skool verlaat het, het ek gevind dat my geloof soos my ou skoolbaadjie geword het – ek het dit ontgroei en dit het nie meer gepas nie! My begrip van Jesus was te klein! Omstreeks hierdie tyd het my Oom (later 'n Permanente Diaken in Johannesburg) vir my 'n biografie van die Jesuïete-priester, Pierre Teilhard de Chardin, geleen. Alhoewel ek beslis nie alles verstaan het wat ek gelees het nie, het ek daar 'n ‘groter’ Jesus Christus ontdek! De Chardin het sy gedagtes gegrond op sy wetenskaplike navorsing oor die ‘oorsprong-perspektiewe’ in Efesiërs en Kolossense. Ek onthou dat ek van sy groot toewyding tot die Heilige Hart (van Christus) gelees het – hy het gesê dat hy dit op sy ma se knie geleer het!
Deur sy wetenskaplike navorsing, sy wêreldwye reise en sy priesterlike lewe van gebed, het De Chardin homself dieper ingegrawe en gegroei in wat hy by sy ma geleer het. En so het hy begin om te sê dat alles wat bestaan in die Kosmiese Christus ingetrek word. Sy perspektief help ons om die dieptes en hoogtes van die belofte wat Ons Here in Jn 12: 32 gemaak het, beter te waardeer: “En as Ek van die aard af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek (2020 Afrikaanse Vertaling).” Is dit dan nie die klassieke Christendom se verstaan, dat ons genooi word en ingetrek word in die mistieke Liggaam van Jesus Christus in, en dat ons daardeur ons tuiste kan te maak by die Vader en die Heilige Gees - in die God self nie? Hoe ‘groot’ is dit nie?! Ek wonder of ons nie soms dink dat Jesus Christus, sedert sy hemelvaart, sy aardse werk afgehandel het, en tydelike aftrede het nie en dat Hy net weer sal begin werk met Sy Wederkoms nie? Maar wat van Sy werk aan die regterkant van die Vader? Ons is tuis met beide die Galilese Goeie Herder en die Kosmiese Christus.
Maar daar skort iets - iets meer. Trouens, hierdie ‘iets’ wys na die kern, of, soos in Frans, ‘le Coeur’ - die hart van die saak! Dit is hierdie ‘iets’ wat St Therese ‘van die Kind Jesus’, ontdek het as die genade van haar roeping, naamlik dat sy in die Mistiese Liggaam van Christus, na die hart geroep is. Heel in die middel van die werk van ons Here, beide ‘klein en plaaslike’ en ‘groot en universele’, is 'n Goddelike Vuur van Liefde. Hy sit Sy Allerheiligste Hart daarin!
Karl Rahner wat in die 1960's geskryf het, het eenkeer gesê dat die priester van die toekoms geseën sou word as hy 'n lewende toewyding tot die Heilige Hart sou hê. Ongetwyfeld het Rahner gepraat van beide 'n ‘klein’ en 'n ‘groot’ toewyding. Sentraal tot sy denke hier, is die feit dat die Hart van Jesus Christus hartstogtelik verlief is op die Vader sowel as op sy broers en susters – en veral diegene wat ly. Die hart van Christus maak ruimte vir die kleinheid van elkeen van ons en die grootheid van die kosmos. ‘n Interessante anekdote: Flannery O'Connor het 'n paar van Rahner se artikels gelees, en sy het nie daaraan getwyfel dat dat hy 'n groot figuur was nie. Sy het egter bygevoeg dat sy nie altyd verstaan wat hy sê nie! Dit sal egter geen verrassing wees vir diegene wat Rahner moes bestudeer nie!
Hier onthou ek 'n ervaring wat De Chardin gehad het toe hy, as 'n draagbaar draer in die 1ste Wêreldoorlog, die Legion van Eer vir Dapperheid op die slagveld ontvang het. Weg van die slagveld af het hy 'n klein kapel binnegegaan en voor 'n prent van Christus begin bid. Geleidelik het hy gesien hoe die grense van die prentjie skielik beweeg, lewendig word, en in die aangesig van Christus het hy die skoonheid van alle mans en vroue deur alle tye gesien. (vgl. sy kort opstel getiteld,’The Picture’). Die egtheid van De Chardin se liefde vir die Heilige Hart van Christus word weerspieël in sy liefde vir die Kosmiese Christus.
Flannery O'Connor was 'n kortverhaalskrywer - haar stories was bekend vir hulle vreemde karakters wat dikwels betrokke was by skokkende optredes en uitkomste. Sy het gesê dat sy sulke skokkende prente skets om 'n volk wat blind en doof geword het, wakker te skud vir die Allerheiligste Hart van Jesus. Sy was 'n groot bewonderaar van Teilhard de Chardin en was bemoedig deur te kon sien dat hy haar kommer gedeel het rondom ‘n oordrewe sentimentele vroomheid in die toewyding van hul tyd.
Op sy beurt sou De Chardin O’Connor se besorgdheid deel, naamlik om die blindes en dowes met die Evangelie te bereik. Sy pad na hulle was deur die studie van die oorsprong van die mens en, gebou op hierdie studie, het hy gewys op die toekoms van die mensdom – presies soos in die Kosmiese Christus. Maar hy het ook die noodsaaklikheid daarvan herken om mense te waarsku, om hulle wakker te skok. Onthou sy stelling – sekerlik skokkend - dat die mensdom vinnig die punt bereik “waar dit sal moet kies tussen 'n God van Liefde en biologiese selfmoord.” 'n God van Liefde, inderdaad, wat Homself op ‘n besonderse wyse in die Allerheiligste Hart van Jesus geopenbaar het.
In my kapel het ek 'n brons afbeelding van die Heilige Hart - ek het dit eintlik gered uit 'n hoop rommel wat op die punt was om na die vullishoop vervoer te word. Al wat ek kon dink was dat iemand vertroue verloor het in hierdie ‘klein’ Jesus – en heel moontlik Elvis Presley verkies het! Wat 'n skande; hoe desperaat hartseer en tragies. Mag ons, jy en ek – die liefde van die mees Heilige Hart van Jesus herontdek op maniere, beide ‘klein en intiem’ sowel as ‘groot en kosmies’.
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
