Katolieke Network Suid Afrika

 Katolieke Netwerk Suid- Afrika

Catholic Network South Africa

Catholic Network South Africa

Catholic Network

 

Katolieke apologie, ondersteuning vir bekeerlinge en nationale netwerk 

 

Ons missie

Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.

Hoekom Christene Advent, Kersfees en Paasfees mág – en hóórt – om te vier
Die Heiliging van Tyd as die Volk van die Drie-enige God

Jacobus de Bruyn

 

Christene vier nie die liturgiese jaar omdat ons hunker na ritueel, of omdat ons vasgevang is in “mensgemaakte tradisies”, of omdat ons blind is vir sogenaamde “heidense verbintenisse” nie.  Nee – ons vier Advent, Kersfees, Paasfees, en die ritme van die Christelike jaar omdat dit is wat ’n verlosde mensdom dóén.  Dit is die léwenswyse van ’n volk wat deur die Drie-enige God geroep, versamel, geheilig en gevorm is.

 

Ons heilig tyd omdat ons in ons lewensritmes en gewoontes bely wat die Vader gedoen het, wat die Seun volbring het, en wat die Gees tans doen in die Kerk.  Ons merk dae en seisoene omdat God in die geskiedenis ingegryp het en dinge gedoen het – en omdat Hy die mensdom, deur wat Hy gedoen het, in staat stel om juis tyd terug aan Hom te gee.

 

Van Genesis tot Openbaring sien ons dieselfde diep Bybelse instink -  wanneer God optree, onthou sy mense;  wanneer Hy red, herdenk sy volk;  wanneer Hy openbaar, bely sy kinders.  En hulle doen dit nie net met woorde nie – maar met kalenders.

 

1. Om tyd te heilig:  ’n Bybelse roeping

Reg van die begin af wys God dat tyd aan Hom behoort (Gen 2:3).  Ons sien Israel se hele lewensraamwerk is gestruktureer rondom heilige tyd - Sabbatte, nuwe mane, Pasga, Pinkster, Huttefees. En, belangrik - Israel voeg  ook feeste by in reaksie op God se reddingsdade – byvoorbeeld:

  • Purim (Est 9:27–28), eeue ná Moses ingestel,

  • Hanukkah (1 Makk 4), nog later, en deur Jesus self gevier (Joh 10:22–23).

 

As dit sondig was om feesdae buite die Mosaïese wet in te stel, sou Christus Hanukkah veroordeel het.  Hy sou dit nie daaraan deelgeneem het nie.  Maar Hy doen.  Waarom?  Omdat die heiliging van tyd die spontane reaksie is van die volk van God.

 

In die Ou Testament onthou Israel die magtige dade van Jahwe.  In die Nuwe Testament onthou die Kerk die reddingsdade van die Vader, in die Seun, deur die Heilige Gees.  Wanneer Christene Advent, Kersfees en Paasfees vier, voer ons nie vreemde elemente in nie – ons tree in dieselfde ritme in wat God self gevestig het:  God handel – sy mense onthou, verkondig en verheug hulle.  Dis nie opsionele vroomheid nie – dis verbondstrou.

 

2. Die Vroeë Kerk en die vorming van Christelike tyd

Reeds aan die einde van die eerste eeu kom Christene elke Sondag bymekaar – die Dag van die Here – as ’n weeklikse viering van die Opstanding (Hand 20:7; Op 1:10).  Teen die tweede eeu vier hulle reeds jaarliks Pasga (Paasfees).  Teen die derde eeu begin die volle ritme van Christus se lewe – Menswording, Lyding, Opstanding, Hemelvaart, Pinkster – in die liturgie van die Kerk vormkry.

 

Vir die Kerkvaders – Ignatius van Antiochië, Ireneaus, Origenes, Athanasius, Cyril van Jerusalem, Leo die Grote – is die liturgiese jaar nie iets om te bewys nie, maar iets wat aanvaar en veronderstel word.  Vir hulle was die liturgiese jaar nie ’n “opsie” nie – dit wás die uitleef van die Evangelie binne die struktuur van tyd.  Tyd is nie maar net neutrale kronologie nie – tyd is genade, dis ‘n geskenk, dis die ruimte waar redding die skepping aanraak.

 

3. Kersfees en Paasfees is níé heidens nie:  Die werklike geskiedenis

Die gewilde bewering dat Kersfees en Paasfees “heidense gebruike” is, val uitmekaar sodra mens dit histories ondersoek.  

           

A. Kersfees (25 Desember)

Daar is geen bewyse van ’n heidense fees op 25 Desember voor die Christelike viering daarvan nie.  Die eerste heidense verwysing (“Geboretedag van Sol Invictus”) verskyn eers in die Chronograph van 336 – dieselfde dokument wat wys dat Christene reeds Christus se geboorte op dié datum gevier het.

 

Wat was dus eerste?  Die Christelike fees.

Vroeë Christene het dit theologies bereken:

  • hulle bereken Christus se ontvanging op 25 Maart,

  • nege maande later → 25 Desember.

 

Dit het nie gegaan oor astrologiese berekeninge nie, maar oor inkarnasie-teologie - Christus is die Sun van Geregtigheid (Mal 4:2).  Soos Augustinus sê:  “Ons vier nie die son nie, maar Hom wat die son gemaak het.”

 

B. Paasfees

Die bewering dat Paasfees heidens is, is ook histories ongegrond.

  • Die datum kom direk uit die Joodse Pasga.

  • Die inhoud is Christus se dood en Opstanding – dit het niks met heidense mites te doen nie.

 

Ja, sommige heidene het lentefeeste gehad – maar die skepping behoort nie aan heidene nie!  Die skepping behoort aan God.  Neem die voorbeeld van die reënboog:  Pagane en moderne ideologieë (New Age, gender-ideologieë) kan dit misbruik, maar God het dit gemaak (Gen 9:13). Die misbruik deur mense ontneem nie God se eienaarskap van sy skepping nie.

 

Christene leen nie simbole nie – ons herwin dit.  Ons her-heilig dit.

 

4. St. Bonifatius en die Kersboom:  Die Kerk se herwinning van die skepping

In die agtste eeu stap St. Bonifatius ‘n Germaanse woud binne.  Daar ontdek hy ’n volk vasgevang in heidense boomaanbidding.  In die middel van daardie heidense rituele het ‘n reuse eikboom gestaan  - bekend as die Boom van Thor -’n heilige simbool wat as goddelik beskou is.

 

Bonifatius, met die rustige moed van ’n man wat weet Wie hy dien, het egter ‘n byl gevat en die eikeboom af gekap.  En toe die sogenaamde god van donder hom nie doodslaan nie, gebeur iets merkwaardig - die mense het besef dat Christus die ware Here is.  Baie van hulle het tot bekering gekom.

Net ’n entjie verder, tussen die stompe en splinters, het ‘n klein immergroen boompie gestaan.  Bonifatius het afgebuk en daarna gewys en en sê:  “Hierdie boompie sal vanaand julle heilige boom wees – ’n teken van vrede en ewige lewe.”

 

Dit was geen sinkretisme nie. Geen “meng-en-pas” van godsdiens nie.  Dit was evangelisasie - die vervanging van ’n valse simbool met ’n teken wat na Christus wys.  ’n Vooruitwysing na die spruit uit die stomp van Isai waarvan Jesaja 11 praat.  Christene het nie ’n heidense boom ingetrek en begin versier nie.  Nee - ons het dit omgekap… en in sy plek ’n boom van ewige lewe geplant.

 

Dít is die hart van Christelike simboliek - ons vrees nie die skepping nie - ons eis dit vir Christus op.

 

5. Die geskiedenis en betekenis van Paaseiers

So is ookdie idee dat Paaseiers “heidens” is, ’n moderne wanbegrip.  Van vroeg af het Christene die eenvoudige eier gebruik as ‘n beeld van die opstanding.

 

  • Die dig tgeslote dop verteenwoordig Christus se liggaam in die graf.

  • Die oopbreek van die eier verbeeld die nuwe lewe wat uit die dood bars.

  • Ortodokse Christene kleur dit rooi om Christus se bloed te simboliseer.

 

In die Middeleeue eet Christene nie eiers tydens die vastyd nie.  Met Paasfees word die eerste eiers weer geniet – dit word ’n eenvoudige maar vreugdevolle teken van oorvloed, feestelikheid en nuwe begin.  Die paaseier fluister nog steeds die oeroue waarheid:  Lewe breek deur die dood; lig dring deur die duisternis; Christus het opgestaan.  Dit is nie kinderagtige versiering nie – dit is ’n eenvoudige sakramentale herinneraar.

 

6. Die Liturgiese Jaar: Deelname, nie blote herinnering nie

Die Vroeë Kerk was oortuig dat in die liturgie herdenk ons nie net nie – ons deel in Christus se reddende dade.

  • In Advent leer ons verlang.

  • In Kersfees leer ons aanbid.

  • In Lent leer ons berou en omkeer.

  • In Paasfees leer ons jubel.

  • In Gewone Tyd / Koninkrykstyd leer ons wandel met die Opgestane Christus.

 

Die liturgiese jaar hou ons nie gevange nie – dit maak ons vry.  Dit verlos ons van die tirannie van sekulêre tyd en dompel ons weer in, in die Geskiedenis van Verlossing.

 

7. ’n Teen-kulturele getuienis

Wanneer ons die Christelike feeste vier, leef ons teen die stroom van relativisme en sekularisme in.  Ons verkondig so:

  • Tyd is nie leeg nie.

  • Geskiedenis is nie toevallig nie.

  • Die menslike lewe is nie ’n klomp los momente nie.

  •  

Wanneer ons Advent, Kersfees en Paasfees vier, getuig ons dat Christus is die Here van tyd.  Christus is die sentrum van geskiedenis.  Christus is die Een in wie alle seisoene betekenis vind.  Ons vier die liturgiese jaar en sy feeste omdat ons swak is nie, nee, maar omdat on sweet dat God waardig is.  Ons heilig tyd omdat God dit eerste geheilig het.

 

Slot

Christene vier nie Kersfees, Paasfees of die liturgiese jaar omdat ons half-heidens is nie. 

 

Ons vier dit omdat:

  • God werklik die geskiedenis binnegekom het;

  • Christus werklik gesterf én opgestaan het;

  • die Heilige Gees werklik die Kerk heilig;

  • tyd werklik aan die Drie-enige God behoort.

 

Om die liturgiese feeste te verwerp, is om tyd af te plat en uit te hol tot sekulêre leegheid - 0m dit te omhels, is om te bely wat die Kerk nog altyd verkondig het - “Dit is die dag wat die Here gemaak het – dit is die storie wat Hy geskryf het – laat ons juig en ons verheug in Hom.”

 

Die Christelike feeste is dus nie verbode nie, maar ’n diep, ryk, Bybelse uitdrukking van apostoliese tradisie en die lewende belydenis van Christus se Liggaam in die wêreld.

 

01

Features

Page title

Add your business motto by double clicking

Get in Touch

2025

3 konferensies waarvan die plek en tyd binnekort aangekondig sal word!