Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Die geloofverhaal van Petra Maass
Ons lees gereeld die storie van die verlore seun wat weer teruggekom het na sy pa nadat dinge in die wye wêreld vir hom skeef geloop het. Al is ons bly vir hom wanneer hy uiteindelik huistoe terugkom en sy pa hom met blydskap groet, skud ons ons koppe oor hoe onverstandig die jong man was. Sommige van ons vind selfs aanklank met die seun se ouer broer, wat wanneer hy terugkom van die veld af, kwaad raak oor die vieringe vir sy onverstandige broer, terwyl hy wat die heeltyd by die huis gebly het en na die familie omgesien het, geen erkenning daarvoor kry nie. Maar hierin is ons fout – ons is almal die verlore seun, die wegloopkind wat gesondig het, en wat êrens op ons lewenspaadjie die besluit moet maak om na ons Vader terug te keer.
Op skool het baie van my vriende opinies oor geloofsake begin ontwikkel en hulself soms luidkeels daaroor uitegdruk. Ek het gevoel as ek net by die kerk waarin ek grootgeword het bly en net nog bietjie harder glo en bid dat ek ook tot sulke sterke oortuiging sal kom. Ek het myself altyd oortuig dat ek soos die ouer broer in die storie van die verlore seun sou wees – altyd getrou, altyd verantwoordelik. Ek het getrou kerktoe gegaan, elke aand Bybel gelees, ek was ACSV kringleier, en het selfs redelik trots daarin gehad dat ek op skool pryse vir Bybelkennis kompetisies gewen het. Tog het die onrustigheid by my gebly – al het ek soms pure verbinding met God gevoel in besonderse Paasdienste of Pinkstersangdienste, was daar tog iets kort, iets wat ek interpreteer het as “ek is nooit genoeg nie”. My vrees het begin groei dat die gevoel permanent sou word.
Na my studies in Kaapstad, het ek in 2017 Bloemfontein toe getrek en het ek by die omgewing se NG kerk betrokke geraak. In dié spesifieke gemeente het ek bietjie gemoedsrus gevind en vir die eerste God se stem begin hoor. Veral op dae waarin ek geglo het dat ek figuurlik onsigbaar en nikswerd was, het die predikant se openingsgebed wat soms geëindig het met “die Here sien jou hier waar jy is”, my diep geraak. Oor die volgende paar jare het ek op tye heilige oomblikke van geloofsgroei hier beleef. In COVID se verwarring het die predikant se herhaling van Psalm 18 “want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur” my moed gegee. In ‘n Pinkstersangdiens het die boodskap dat God se lig juis deur ons skyn deur die krake van waar ons, as kleipotte, gebreek is, my vertroos. Op Goeie Vrydag het die geluid van spykers wat in ‘n plank geslaan word my hart in pyn en skuld laat krimp. Min het ek dit toe besef, maar hierdie was maar die begin van groeipyne in my geloofslewe.
In 2024 het ek probeer om bewustelik meer betrokke by die kerk te raak, maar ongelukkig het beide my eerste poging om by die “jongwerkendes gebedsgroep” betrokke te raak en die nagmaal op die Donderdag voor Paasnaweek by te woon my gebroke gelaat. Ek kon nie ‘n diepe verbinding met God voel nie, en soos die broer van die verlore seun, het ek gevoel of ek geen beloning vir al my moeite kry nie.
Op min of meer dieselfde tyd het ‘n vriend my aangeraai om ‘n ooreenkoms met die Here te maak – iets eenvoudig soos dat ek vir 40 dae sal opdaag in meer gebed en dan wag om van Hom te hoor. Hy het my ook ‘n rosekrans gegee, wat my onmiddelik aangeraak het al het ek geen idee van die “regte” gebede of die betekenis verbonde daaraan gehad nie. Na ‘n week het dit maar sleg gegaan – my verhouding met my familie was moeilik weens die isolasie en depressie wat oor my neergesak het. Na nog ‘n week het ek die Fatima gebed van die rosekrans geleer en dit obsessief gebid waarookal ek ‘n oomblik se stilte in my gedagtes gehad het. Na ‘n paar dae het ek vir die eerste keer op my knieë die rosekrans saam met twee van my vriende gebid in ‘n oomblik wat my so oorweldig het dat ek vir lank daarna nog te tranerig en uitgeput was selfs om te praat.
Op hierdie stadium was Katoliek-wees nie eens ‘n gedagte wat by my opgekom het nie. Ek het slegs ‘n gebedsmetode van hulle geleen. Op Hemelvaart het ek die diepe behoefte gehad om in ‘n heilige plek met medegelowiges te wees. My eie kerk het nie ‘n diens gehad nie, so ek is na ‘n naburige NG kerk vir die laatmiddag diens – met my rosekrans stewig in my hand vasgeklou. Ek sal nie hier in veel meer besonderhede ingaan as om te sê dat die diens my baie ontstel het nie – dit het met minder geweidheid as ‘n braai-kuier verloop, en ek het omtrent heeltyd kop onderstebo gesit en die rosekrans saggies gebid. Na my vriende hierdié storie gehoor het, het hulle aangedring om my die Saterdagaand na die Katolieke mis te vat. Die kerkie is maar klein en ons het bietjie laat opgedaag, so my verwagtinge was maar redelik laag op hierdie stadium. En in die stilte en met die reuk van ou hout gebeur dit saggies – toe my knieë die kussingkies van die knielbank tref en ek die Onse Vader bid, het ek ‘n skuif gevoel. Is hierdie waarvoor ek gesoek het?
Ons het die Sondag voor Pinkster weer gegaan. In die opbou na Pinkstersondag het my vriend vir my ‘n reeks Katolieke gebede gegee om daagliks en sommige uurliks(!) te bid. Getroue pliggie wat ek is, het ek dit sonder twyfel gedoen en gedink “hier kom my groot oomblik met Pinkstersondag”. Groot was my teleurstelling op daardie Sondag toe ek uitgeput van so gereeld en emosioneel bid nie die weerligstraal oomblik waarvoor ek gewag het kry nie. My vriend se reaksie was eenvoudig “dis nie hoe dit werk nie”. Tenspyte van hierdie teleurstelling, het ek aangehou om na die Katolieke kerk te gaan en het ek begin besef dat ek iets beleef wat ek nog nooit het nie – God se teenwoordigheid in beide die fisiese en geestelike spasie van die kerk. Dit was soms so oorweldigend dat ek oorweeg het om geld aan die kerk te skenk om die waterskade wat my trane elke week op die houtvloer sou veroorsaak reg te maak. Terselfde tyd het ek al meer baie ernstige en diep teologiese debatte met my vriende wat Katolieke teologie agtergrond het gehad – sommige van hierdie debatte het tot 4-uur die oggend geduur. In hierdie gesprekke kon ek vinnig kennis bou van die Katolieke Kerk se sieninge van baie dinge – nie net deur geloof alleen nie; sondes raak nie net die sondaar nie, maar ook die gemeenskap om hom; en God beloon die opregtheid van die hart, en straf nie die krom en skeefheid van goeie dade weens ons onvermoë nie.
In Julie 2024, het ek en my vriende die Kongregasie van die Oratorium van St Filip Neri in Oudtshoorn besoek. Ons is oorreed om die heilige uur met Eucharistiese adorasie by te woon – iets waarvan ek nog nooit eens gehoor het nie. Die advies was om net vir die uur te bid en te onthou dat God woderwerke kan laat gebeur. By die oratorium is daar ‘n teken in die tuin met die woorde “God se eerste taal is stilte”. Ek dink dit is juis in die stilte van daardie heilige uur wat die besef by my opgekom het dat ek amptelik die skuif sou maak om by die Katolieke Kerk aan te sluit. Teen die einde van Julie het ek en twee vriende by die plaaslike RCIV aangesluit ter voorbereiding om teen Paasnaweek 2025 die sakrament van vormsel te kan ontvang.
Op hierdie stadium het ek gedink ek is goed oppad – die goeie broer van die verlore seun wat maar net aangaan om die regte ding te doen. Min het ek geweet dat die Here nog lank nie klaar was met my nie. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek vriende gehad wat nader as familie aan my was en wat die gewig van die gespanne verhouding met my eie familie verlig het, ek het in ‘n nuwe huis ingetrek en vir die eerste keer meubels gekoop om “’n grootmens” tuiste te hê, en ek het vir ‘n promosie by die werk aansoek gedoen. Die saligheid van hierdie tyd was fantasties en ek kon agterkom hoe maklik my denkpatrone by die Katolieke leeringe en tradisies invou en hoe ek in geloof groei. Toe kom ‘n reeks terugslae in Oktober – ek word ingelig dat my nuwe huis se eienaar dit in die mark gesit het en ek binnekort ‘n ander blyplek moet kry, een van my naaste vriende word van my vervreem wees sy eie geloofstruwellinge, en my verhouding met my beste vriend word tot amper breekpunt gedruk weens ons verskille in opinie oor dinge in die RCIV proses. Dit bring my toe een aand tot by een van die donkerste dae in my geloofspad. Met trane en ‘n hart wat uitmekaar skeur, lê ek daardie aand op die vloer van my kamer en bid die lydingsgeheimenisse van die rosekrans, oor en oor en oor. Weerens verwag ek ‘n weerligstraal oomblik – óf om onmiddelik beter te voel, óf dat God my maar van hierdie aarde moet wegvee. Maar dit kom nie, slaap oorweldig my later saggies.
In die seer van die dae en weke wat volg, ontdek ek toe die skryfwerke van beide heilige Teresa van Avila en heilige Jan van die Kruis. Die twee heiliges, wat toevallig in hul leeftyd goeie vriende was, het albei geskryf oor die geloofsvolwassewording van ‘n Christen. Heilige Teresa het die beeld gebruik van God wat in die diepte van ons siel in ‘n kristal paleis woon, en hoe ons deur ons geloofsgroei van die vuil, raserige buitekant van die paleis van vertrek na vertrek – van bietjie bid tot konstante bid – nader en nader aan die silwerskoon, salige middel en eenheid met God beweeg. Op die stadium waar Teresa die oorgang van geloof wat met moeite gegroei moet word tot geloof wat met gemak uit God se krag groei beskryf, raak sy ongelukkig bietjie vaag en gee min advies anders as om net konstant te bid. Gelukkig vul heilige Jan se werke hierdie deel aan. Hy beskryf hierdie tydperk as die “donker nag van die siel” – ‘n tydperk van geestelike droogte waar dit moeilik is om God se teenwoordigheid te voel en te volhard in die dinge
van geloof waar ons nie die beloning kan sien of voel nie. Die skryfwerke van hierdie twee heiliges het my deur die volgende paar maande gedra – deur die soek vir ‘n nuwe blyplek, deur die alleen van die einde van vriendskappe en die worstelling om ander te behou, en die vasbyt van nie weghardloop van die moeite van Katoliek-word nie.
In Januarie 2025, kry ek wonderbaarlik die geleentheid om vir twee weke in die oratorium by Oudtshoorn te gaan woon en werk. Ten spyte van die bedenkinge wat ek gehad het of dit ‘n goeie ding vir my sou wees, bevind ek myself op die eerste dag daar in die tuin voor die beeldjie van die heilige Judas Taddeus – beskermheilige van moeilike en onmoontlike sake. Daar waar ek staan kan ek my lag nie hou nie – toe ek maande vroeër daar was het ek gebid vir dinge wat intussen so uitmekaar gespat en gebreek het dat dit nie eens meer ‘n moontlikheid was nie, nou kan ek nie eens aan iets anders – selfs onmoontlik – dink om voor te bid nie. Ek loop daar weg en bid “laat my net God se roeping hoor”.
My tyd by die oratorium was geestelik so geneesend. Tussen die vroeë oggend heilige mis, die werk in die sopkombuis, en elke vrye oomblik wat ek in die oratorium se koel biblioteek kan spandeer, vorm die idee by my dat God nie net groot en uitermatige dinge verwag en beloon nie, maar elke liewe klein en gewone deeltjie van ons elke dag se denke en dade, veral waar ‘n groepie gelowiges saam is. In die middae wanneer die Januarie Oudtshoorn hitte op sy ergste is, vind ek myself baie male in die tuin wat my aan Getsemane laat dink, en soos Jesus, bid ek elke dag “laat U wil geskied”, maar ek spandeer so min tyd as moontlik naby die beeldjie van heilige Judas Taddeus. In die oratorium se stilte raak ek weer diep bewus van God se teenwoordigheid, maar sukkel nog met die stilte self – hoekom kan ek Hom nie hoor nie? Dit was eers met die eerste heilige uur toe ek my knieë weer die kussingkies tref en die wierook reuk die koel vertrek vul, dat ek opkyk na die altaar en besef dat in daardie heilige uur wat ek maande terug bygewoon het, ek nie geweet het dat ek ooit so geseënd sou wees om terug te kom na hierdie kapel nie. Maar God het. En die diepe gebed wat by my opkom is “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie, maar spreek net ‘n woord en my siel sal genees word”.
In Oudtshoorn het ek werklik my geloofsfamilie gevind en kon vir die eerste keer in my eie taal en kultuurkonteks my geloof as ‘n Katoliek uitleef. Die plesier om met elkeen van die priesters iets te deel – ‘n ligte grappie of ‘n ernstige bespreking – genees baie van my geesteswonde. In die laaste week van my verblyf by die oratorium bid ek aanhoudend vir ‘n teken dat God wil hê dat ek daar moet bly – ek was reg om my werk en lewe in Bloemfontein onmiddelik op te gee. Maar oor en oor het die gevoel na my gekom dat ek nie kan bly nie – dat daar nogsteeds iets in Bloemfontein is wat deel van my roeping is. So, met ‘n swaar hart het ek teruggekom en aangegaan met werk en die RCIV proses, en ek voel weer die intense fisiese alleenheid.
Met Paasnaweek hierdie jaar het ek uiteindelik die sakrament van vormsel ontvang, en is nou amptelik ‘n lid van die een, heilige en apostoliese Katolieke Kerk. As deel van die voorbereiding, gaan ek na ‘n priester vir die sakrament van versoening. Van al die dinge wat ek daaruit verwag het, was die storie van die verlore seun nie een nie. Na ek deur my lysie sondes gegaan het, antwoord die priester met “die hemel verheug hulle oor jou, want jy was die verlore kind wat teruggekom het”. My eerste reaksie was om mismoedig te word, want ek is die verlore seun se goeie, betroubare ouer broer, maar die woorde van my eie skulderkenning tref my: “ek het teen die Vader gesondig”. Dit is eers die Sondag daarna, tydens die heilige mis, toe dieselfde woorde deur ‘n ander priester herhaal word wat dat ek toe besef – ons dink almal ons is die goeie broer en ons het reg om kwaad te wees oor ons nie beloning kry nie – maar ons is nie! Ons is almal die verlore seun wat van die Vader se huis weggegaan het, elkeen op ons eie onverskillige en kinderagtige manier. Ons is almal die seun wat daar in die wrede wêreld moes tot ‘n besef kom dat ons nie op ons eie kan aangaan nie en dat selfs al kom ons terug om as slawe van die Vader te leef, ons beter af sal wees. Maar hierin is die weerligstraal – God verwelkom ons nie terug as slawe nie, maar as Sy geliefde kinders oor wie Hy hom steeds ontferm en in liefde herstel tot ‘n ereplek in Sy huis. Ons was dood en het deur Christus weer lewend geword. Ons was verlore en is weer gevind.
Die opbou na die Saterdagaand waartydens vyftien van ons in die vormsel sakrament tydens die Paaswaak gedeel het was groot, maar vol kosbare oomblikke. Tydens Donderdag se heilige mis van die Laaste Avondmaal van die Here kon ek Jesus se menslikheid en neerbuigendheid uitgeleef sien toe my vriende gekies word om hul voete deur die priester te laat was. Tydens die Stasies van die Kruis op Goeie Vrydag beleef ek ‘n krummeltjie van die pyn van Christus se lang pad na Golgota met nie nét die kruis op sy skouers nie, maar ook die sondes van elkeen van ons wat dit op Hom plaas. Tydens Vrydagaand se stroping van die altaar, omvou die koue van alleenheid my soos ons stil uit die kerk stap, maar die skittering van hoop van die komende opstanding bly ook daar. Tydens die aansteek van die vuur vir die Paaswaak, sien ek die kindelike vreugde in die oë van die jongste lid van ons RCIV groep in afwagting van haar doop. Tydens die verspreiding van kerslig in die katedraal, onthou ek almal wat my vlammetjie op die geloofspad aan die brand gehou het. Tydens die salwing deur die biskop probeer ek onthou om op die regte tyd “Amen” te sê. Terwyl ek alleen met my kersie terugstap na my sitplek, weet ek dat ek nie meer alleen stap nie, maar dat Jesus by my is. Tydens die Eucharistie herhaal my gebed “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie, maar spreek net ‘n woord en my siel sal genees word”. En laastens – toe die mistigheid van die aand op omtrent dieselfde tyd neersak as wat die heilige mis eindig, besef ek dat al is ek die verlore seun en is ek nog lank nie uit my donker nag van die siel nie, en al sukkel ek soms om God te hoor, Sy eerste taal stilte is en dat dit vir beide die verlore seun en sy broer sê “My kind, jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune”.
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
